Gidsopleiding

HISTORIESE GEBEURTENIS VIR KOEPEL-TOERISME

Toergidse wat hul opleiding vir die Vredefort Koepel suksesvol geslaag het, tydens ‘n amptelike funksie hul gidsbalkies en sertifikate ontvang. Die opleiding is moontlik gemaak danksy Cathsseta (Culture, Arts, Tourism, Hospitality & Sport Sector Education & Training Authority), Rotary en die North West Tourism Board.

Foto: Van links is Samuel Seleke, Caren Addison, Bennie Pretorius, Christo Meyer, Jeff Mabunda (Noordwes Toerisme Raad) en Ruhan Ferreira. Agter is Luckson Shuwaki, Jan Fourie, Louis Hugo, Hugh du Preez en Ruan Meyer.

Al die gidse wat opgelei is het reeds vantevore sonder opleiding in die bedryf gewerk, maar is danksy die opleiding nou professioneel opgelei met erkenning van hul vorige ervaring in die bedryfsveld. Hul opleiding het ’n maand se teoretiese opleiding en ’n verdere maand se praktiese opleiding ingesluit. Deel hiervan was ook ’n vlak 3 noodhulpkursus om basiese noodhulp in ongerepte gebiede te kan verleen. Hiermee is hulle nou gekwalifiseer as Adventure Site Guides vir die Vredefort Koepel.

Die opleiding vir die 30 gidse wat almal geslaag het, het nagenoeg R400 000 gekos en is sowat ’n jaar en ’n half gelede voltooi. Die balkies is egter nou eers ontvang.

Hoewel van die opgeleide gidse intussen elders in die bedryf werk aanvaar het, beteken dit steeds dat die toerisme-industrie in die breë ook by die inisiatief gebaat het. Die doel is juis nie om nuwe mense op te lei nie, maar mense wat reeds in die bedryf is maar nie die korrekte kwalifikasies het nie.

Die geleentheid is as ’n historiese gebeurtenis vir die Dome Guides Association (DGA) bestempel. Boonop word die DGA nie net in die Vrystaat en Noordwes provinsies nie, maar ook nasionaal as opleidingsinstansie erken.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In sy boodskap het mnr. Jeff Mabunda van die Noordwes Toerisme Raad gesê dat hy baie in sy skik is met die sukses van die projek en het hy ook toekomstige finansiële steun van Noordwes Toerisme beloof.

Operateurs wat by die opleiding sal baat is Earth Adventurers, Real Adventures, White Water Training, Dome Tours, Taylor Made Tours, Samuel Seleke Tours, River Man en Koepel Adventures.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *